top of page

Nie in ons naam nie

Ons is nie vlugtelinge nie.  Ons verwerp die narratief waarin Afrikaners as slagoffers van rassistiese vervolging in postapartheid Suid-Afrika uitgebeeld word. Jy kan deelneem aan ons gratis petisieveldtog sonder om te bekommer dat ons jou gaan bel vir lidmaatskap.

Nie in Ons Naam Nie: Afrikaners reageer op die manier waarop ons Verhaal in Amerikaanse Politiek misbruik word

As Suid-Afrikaners en Afrikaners reageer ons ten sterkste teen die Trump-regering se plan om aan wit Suid-Afrikaners voorkeur te gee vir vlugtelingstatus – dit terwyl die oorhoofse toelating van vlugtelinge na die VSA drasties verminder word. Hierdie stap het ons identiteit op ‘n ontstellende wyse in die kollig geplaas.

​

Ons verwerp die narratief wat Afrikaners uitbeeld as slagoffers van rassevervolging in post-apartheid Suid-Afrika. Hierdie voorstelling, wat tans gebruik word om die regse “Groot Vervangings”-teorie in die Verenigde State te voed, is nie net misleidend nie, maar ook gevaarlik. Dit verdraai die werklikhede waarmee Suid-Afrikaners te kampe het en gebruik ons geskiedenis as ‘n wapen. Dit reduseer ons komplekse sosiale konteks, en die noodsaaklikheid om historiese ongelykheid aan te spreek, tot ’n simplistiese simbool van wit agteruitgang.

​

Laat ons dit duidelik stel: Suid-Afrika staar ernstige uitdagings in die gesig – misdaad, ongelykheid, en die blywende nalatenskap van apartheid. Maar hierdie kwessies raak Suid-Afrikaners van alle rasse. Om wit lyding uit te sonder en dit bó ander te verhef is oneerlik en skadelik. Dit voed ekstremistiese ideologieë wat verdeeldheid bevorder en reeds tot werklike geweld gelei het, insluitend massa-skietvoorvalle.

​

Ons is nie pionne in Amerika se kultuuroorlog nie. Ons is Suid-Afrikaners, lede van ’n diverse, ontluikende nasie, wat steeds met sy verlede worstel en streef na ’n meer regverdige toekoms. Ons identiteit is nie monolities nie, en ook nie gedefinieër deur vyandigheid tussen historiese groepe nie. Afrikaners het skade aangerig in die verlede, en ons erken dit. As burgers van post-apartheid Suid-Afrika is ons toegewy aan die bou van ons land. Deur ons uit te sonder as slagoffers van veelrassigheid, word ons vervreem van ons mede-Suid-Afrikaners en word verhoudings wat oor die afgelope 30 jaar opgebou is, geskaad.

​

Wat ons die meeste bekommer, is die kaping van ons etniese identiteit deur randgroepe – beide in Suid-Afrika en in die buiteland. Projekte soos “Make Afrikaners Great Again” verteenwoordig ons geensins nie. Hulle verdraai ons geskiedenis en misbruik ons kultuur om eksklusiewe en rasgedrewe ideologiese agendas te bevorder. Ons weier om organisasies soos AfriForum en die Solidariteitsbeweging namens ons te laat praat – geen enkele organisasie het ’n duidelike of legitieme mandaat om namens alle Afrikaners te praat nie. Afrikaners soos ons, wat ons Suid-Afrikaanse wortels terugvoer na die 17de en 18de eeue, kies om onsself lede van ’n inklusiewe en diverse Afrikaanssprekende gemeenskap te noem. Ons deel ’n taal, en ons kulturele tradisies en godsdienstige wortels is dieselfde, maar ons gemeenskap huisves ’n verskeidenheid van sienings. Hierdie diversiteit is ingebed in ons geskiedenis en dit is ons krag, nie ons swakheid nie. Suid-Afrika se diversiteit verryk ons.

​

Die gedagte dat wit Suid-Afrikaners spesiale asielstatus verdien op grond van hul ras ondermyn ook die beginsels van vlugtelingbeskerming. Kwesbaarheid – nie ras nie – moet humanitêre beleid rig. Om wit lyding bo ander te verhef, versterk ’n rasgedrewe wêreldbeskouing wat witheid bo ander stel en wit identiteit as eksistensieel bedreig sien. Dit weerspieël nie ons waardes of ons daaglikse ervaring nie. Om misdaad in Suid-Afrika ‘wit volksmoord’ te noem, terwyl Gaza en Soedan wys hoe volksmoord werklik lyk, is kras en narsisties.

​

Hierdie reaksie is onderteken deur Afrikaners wat glo in waarheid, geregtigheid, en die belangrikheid daarvan om die misbruik van geskiedenis teen te staan. Ons doen ’n beroep op ons mede-Suid-Afrikaners en internasionale waarnemers om hierdie verdraaide narratiewe uit te daag en die waardigheid van alle mense te erken – nie net dié wat in ’n politieke agenda pas nie.

 

Mede-onderteken:

Anneliese Burgess, joernalis en skrywer
Rudi Buys, leierskap- en diversiteitskonsultant
Prof. Wannie Carstens, buitengewone professor, Noordwes-Universiteit
Ds. Andries Cilliers, Nederduitse Gereformeerde Kerk
Prof. Fanie Cloete, emeritus professor, Universiteite van Johannesburg en Stellenbosch
Prof. Piet Croucamp, medeprofessor in politieke studies en internasionale betrekkinge, Noordwes-Universiteit
Frederik de Jager, skrywer
Prof. Pierre de Vos, professor in grondwetlike reg, Universiteit van Kaapstad
Louise du Plessis, Lawyers for Human Rights
Dr. Stan du Plessis, ekonoom en uitvoerende hoof, Stadio
Max du Preez, outeur en joernalis
Louis Gaigher, samestellende redakteur, Wits University Press
Rudolf Gouws, ekonoom
Gert Grobler, voormalige Suid-Afrikaanse ambassadeur
Chris Heymans, vryskut-sakekommentator
Gielie Hoffman, bestuurskonsultant, skrywer
Willem Kempen, joernalis
Dr. Lindie Koorts, historikus, Universiteit van Pretoria
Nick Koornhof, voormalige LP
Regter Johann Kriegler
Ruda Landman, joernalis en skrywer
JP Landman, politieke en ekonomiese ontleder
Barend La Grange, gemeenskapsontwikkelingspesialis
Andrew le Roux, sakeleier en raadslid
Prof. André le Roux, Universiteit van Kaapstad
Dr. Pepe Marais, hoof-doelwit- en adjunkhoof, Joe Public
Prof. Martin Oosthuizen, adjunk-visekanselier, Noordwes-Universiteit
Chris Otto, medestigter van die PSG Groep en voorsitter van Zeder Investments
Nina Overton-de Klerk, emeritus professor in strategiese kommunikasie, Universiteit van Johannesburg
Hans Pienaar, skrywer
Truida Prekel, innovasiekonsultant
Dr. Jurie Schoeman, teoloog en predikant van die Nederduitse Gereformeerde Kerk
Leane Spangenberg, regsadviseur
Chris Spies, vredesbou- en bemiddelingspesialis
Deborah Steinmair, skrywer
Dr. Susan Steynberg, voormalige adjunkdirekteur van biblioteekdienste, Universiteit van Kaapstad
Dr. Mareli Stolp, pianis en akademikus
Dr. Petrus Strijdom, geestelike en teoloog
Ds. Rudi Swanepoel, Nederduitse Gereformeerde Kerk
Adv. Jacob van Garderen
Prof. A.A. van Niekerk, emeritus professor in filosofie en emeritus direkteur van die Sentrum vir Toegepaste Etiek, Universiteit Stellenbosch
Prof. Anthoni van Nieuwkerk, professor in internasionale betrekkinge, UNISA
Ali van Wyk, joernalis
Dawie Jacobs, voormalige ambassadeur en politieke kommentator
Dr. Cornel Malan, onafhanklike strategiese konsultant
Mercia Schoeman, skrywer

Dr Marilet Sienaert, voormalige uitvoerende direkteur van navorsing, Universiteit van Kaapstad.

Image by Shaun Meintjes
bottom of page