top of page

’n Beroep op die G20: Verwerp die leuens oor “Afrikanervervolging” en bevestig multilateralisme

  • Writer: Afrikaners vir SA/Afrikaners for SA
    Afrikaners vir SA/Afrikaners for SA
  • Dec 3, 2025
  • 2 min read

Die Amerikaanse president, Donald Trump, het dit nou baie duidelik gestel: Geen vlugtelinge sal tot die VSA toegelaat word nie behalwe sogenaamde “vervolgde” Afrikaners.


As besorgde Afrikaners vra ons die G20-lande wat pas die beraad in Johannesburg bygewoon het om hierdie saak duidelik en reguit te hanteer. Moet asseblief nie geloofwaardigheid verleen aan ’n narratief wat die Suid-Afrikaanse werklikheid verdraai nie. Help deur die feite in jul openbare uitsprake reg te stel.


Ons vra ook dat julle multilateralisme beskerm deur te keer dat Suid-Afrika se deelname aan die G20 deur disinformasie en politieke druk ondermyn word, en dat die G20 op gedeelde beginsels, gevestigde reëls en goeie trou bly steun.


Laat ons dit weer eens baie duidelik maak: Afrikaners is nié ’n vervolgde groep nie. Suid-Afrika het groot probleme – misdaad, korrupsie, ongelykheid, armoede en die blywende nalatenskap van apartheid – maar dit raak mense oor alle gemeenskappe en etniese grense heen.


Net soos baie wit Amerikaners het ons Europese wortels wat meer as drie eeue terugstrek. Maar ons het ook, soos ons benaming en etniese groep aandui, volledig deel van Afrika geword. Ons wortels, ons lewe en ons toekoms is hier, saam met alle Suid-Afrikaners.


Die uitsondering van Afrikaners as die enigste of “spesiale” slagoffers is ’n vals narratief. Dit rig skade aan en dit skep die indruk dat witheid op sigself ’n rede vir voorkeurbehandeling is.


Bewerings oor “konfiskering” is ook misleidend: Nie ’n vierkante sentimeter grond in wit besit is sedert 1994 afgeneem nie. Suid-Afrika se Grondwet laat nie sommer onteiening toe nie; regsprosesse moet gevolg word en dit moet binne grondwetlike waarborge plaasvind.


President Trump se benadering verdraai die kern van wat dit beteken om ’n vlugteling te wees. Toekenning van vlugtelingstatus behoort gegrond te wees op werklike vervolging en ware kwesbaarheid, nie op ras of politieke voordeel nie. Om Afrikaners as “vervolg” te bestempel, maak van ons ’n propaganda-simbool en verdiep verdeling in Suid-Afrika én internasionaal.


Ons doen ook ’n beroep op Afrika-solidariteit: dat regerings en instellings regoor die vasteland saamstaan teen die politieke uitbuiting van identiteit, en teen druk wat demokrasie wil verswak en samewerking binne-in Suid-Afrika wil ondermyn.


Ons is nie pionne in ’n Amerikaanse kultuuroorlog nie. Nie in ons naam nie.


 
 
 

Comments


bottom of page